LIMPOPO. – ‘n Man (45) is deur die Polokwane-hooggeregshof lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy ‘n meisie (9) op 24 Desember 2023 ná ‘n trouseremonie in Dennilton verkrag het. Die beskuldigde was die bruidegom. Sy naam word weerhou om die minderjarige se identiteit te beskerm.
Mashudu Malabi-Dzhangi, NVG woordvoerder, sê in ‘n verklaring die slagoffer, haar ma, ‘n jonger sib en twee tannies, deel van die bruid se familie, het ná die troue by die bruid se huis oornag. Die beskuldigde het in die vroeë oggendure by die kamer waar die kind geslaap het, ingegaan en haar na ‘n leë kamer gedra, waar sy verkrag is. Die slagoffer het om hulp geskree, wat die beskuldigde laat vlug het. Haar ma het haar kaal aangetref, waarna die polisie ontbied en die beskuldigde in hegtenis geneem is.
Die beskuldigde het onskuldig gepleit, maar staatsadvokaat Shirley Mawasha het dwingende bewyse, saam met die J88- mediese verslag, DNS-bewyse en getuienis van die beskuldigde se oom voorgelê. Volgens die oom het die beskuldigde aan hom beken dat hy die kind seksueel aangerand het. Ter verswaring van die vonnisoplegging het die staat aangevoer die beskuldigde het vertroue verbreek. ‘n Dag van vieringe het sleg uitgedraai en die verhouding tussen twee families onherstelbare skade aangedoen. Die staat het aangedui die beskuldigde was regdeur die verhoor arrogant en het geen berou getoon nie.
Die regter het uitgewys as ‘n pasgetroude moes die beskuldigde sy eerste getroude nag saam met sy vrou deurbring en nie ‘n misdaad pleeg wat in ‘n film hoort en nie in die regte lewe nie. Met die oplegging van die lewenslange tronkstraf is die beskuldige onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. Sy naam sal ook in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring word en hy is onbevoeg verklaar om met kinders te werk.





