OOS-KAAP. – Twee manlike verdagtes, onderskeidelik 34 en 62 jaar oud, is Sondagand omstreeks 20:30 in hegtenis geneem nadat hulle buite Port Alfred met kreef ter waarde van meer as R1,2 miljoen betrap is.
AO Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê honde-eenheidsbeamptes van Port Alfred was op die R72 besig met roetinepatrollies, toe hulle ’n verdagte Toyota-bakkie opmerk wat in die rigting van Oos-Londen ry. Die voertuig is van die pad af getrek en die twee insittendes is ondervra. Agter op die bakkie het die polisie bokse met Weskus-kreef gevind.
Die verdagtes kon geen dokumentasie of permit toon vir die besit of vervoer van die kreef nie en die polisie het op die kreef met ’n totale gewig van 822,76 kg en ’n straatwaarde van R1.2 m. beslag gelê. Die twee mans is in hegtenis geneem en op oortreding van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne (Wet 18 van 1998) aangekla. Hulle sal in die Port Alfred-landdroshof voorkom.
“Die kombinasie van intuïsie en waaksaamheid het tot hierdie suksesvolle arrestasie gelei,” het adj.off. Majola Nkohli gesê.





