MPUMALANGA. – ’n Ma (43) en haar seun (24) is Maandag tydens ‘n huisroof in Barberton vermoor. ‘n Vroulike verdagte (19) is ná die voorval deur lede van die gemeenskap aangeval en is tans onder polisiebewaking in ‘n hospitaal.
Lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder, sê luidens ‘n verklaring deur konst. Faniswa Sibiya is die polisie na ‘n klag van ‘n huisroof ontbied waartydens verskeie gesinslede geskiet is. Met aankoms by die hospitaal het mediese personeel die beamptes na drie pasiënte met skietwonde geneem. ’n Vrou en haar seun is kort daarna oorlede. terwyl die jongste dogter steeds in die hospitaal is.
Gemeenskapslede het die verdagte glo ná die voorval aangeval en probeer om haar aan die brand te steek. Die polisie het betyds ingegryp en haar gered. Sy word tans onder polisiebewaking in ‘n hospitaal behandel. Die verdagte word deur aanklagte van moord, poging tot moord en inbraak in die gesig gestaar.
Nog geen inhegtenisnemings is in die voorval van gemeenskapsgeregtigheid (mob justice) gemaak nie. Die ondersoek duur voort.
Genl.maj. Zeph Mkhwanazi, die provinsiale kommissaris, het kommer uitgespreek oor die toename in voorvalle van gemeenskapsgeregtigheid wat die afgelope twee dae in die provinsie aangemeld is. Hy moedig die gemeenskap aan om nie die reg in eie hande te neem nie en die polisie toe te laat om hul pligte professioneel en doeltreffend uit te voer.





