KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou het Dinsdag ná ‘n botsing op die R33 naby Copesville gesterf. In dieselfde ongeluk is twee transito-veiligheidswagte, nog ‘n vrou en twee kinders, onder wie ‘n 19 maande oue baba, beseer.
Mi7 National Group sê in ‘n sosialemediaplasing nood- mediese dienste is kort voor 14:00 na die toneel ontbied waar ’n gepantserde voertuig met ’n Toyota Avanza gebots het. Die twee veiligheidswagte het matige beserings opgedoen. Een van hulle was in die wrak vasgekeer en moes deur brandbestryders van Pietermaritzburg met gespesialiseerde reddingstoerusting bevry word. Albei is later na ‘n hospitaal vervoer.
In die Toyota was twee vroue tussen 30 en 50 jaar oud saam met ’n 5-jarige meisie en ’n 19 maande oue baba. Albei kinders het ernstige beserings opgedoen, met die 5-jarige wat gevorderde lewensondersteuning benodig het. Een van die vroue het ernstige beserings opgedoen, terwyl die ander vrou, ongeveer 30 jaar oud, ook gevorderde lewensondersteuning benodig het en tydens vervoer na die hospitaal aan ’n meganiese ventilator gekoppel is. Sy is later in die hospitaal oorlede.
Paramedici van verskeie diensverskaffers het saamgewerk om die beseerdes te behandel en na hospitale oor te plaas.





