KWAZULU-NATAL. – ‘n Kinderoppasser (35) wat gedurende die naweek vir die beweerde ontvoering van ‘n nege maande oue baba in hegtenis geneem is, verskyn vandag in die Durban-landdroshof. Die kinderoppasser het glo ook voorgegee dat die baba haar en haar kêrel s’n is, vir wie hy onderhoud betaal het.
Lt.kol. Paul Magwaza, polisiewoordvoerder, sê die baba se ma het Saterdagmiddag by haar huis in Durban aangekom en ontdek dat haar kind en die kinderoppasser spoorloos verdwyn het. Toe sy die oppasser bel, is sy meegedeel dat sy en die kind sonder toestemming in Empangeni was.
Die oppasser kon nie ‘n geloofwaardige verduideliking gee oor hoekom sy die kind weggeneem het nie en het selfs voorgestel dat die ma na Empangeni moes reis om haar seun te gaan haal. Die voorval is by die Durban-Sentraal-polisiekantoor aangemeld. Verskeie eenhede is betrek en ‘n oprasie is geloods, waarna die verdagte in hegtenis geneem en die baba ongedeerd teruggevind is.
Die baba het intusseen ‘n mediese ondersoek ondergaan. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagte aan haar kêrel voorgegee het dat die baba hulle kind is. Die man het glo R2 500 per maand aan haar gegee om na die kind om te sien.
Magwaza het bevestig die ondersoek duur voort.





