NOORD-KAAP. – Arnold Jonkers (22) is deur die Williston-landdroshof tot vyf jaar tronkstraf vir die aanranding van ‘n driejarige kleuter op 19 Maart 2023 gevonnis. Jonkers het ná ‘n geveg ‘n baksteen gegooi wat die kleuter teen die kop getref het.
Sers. Merapelo Pilane, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die hof het gehoor die slagoffer het saam met haar ouers huis toe geloop. Twee bekende mans het naby hul woning baklei en die pa van die kleuter het ingegryp om die geveg te beëindig. Ná die bakleiery het Jonkers klippe en stene na die gesin gegooi en ‘n baksteen het die kleuter teen die kop getref. Sy het ernstige beserings opgedoen en is na ’n plaaslike mediese fasiliteit geneem. Die voorval is by die polisie aangemeld, waarna die beskuldigde in hegtenis geneem en vir aanranding met die opset om ernstig te beseer, aangekla is.
Speur.konst. Anthony Willemse van die Calvinia-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) het die ondersoek gelei en borgtog suksesvol teëgestaan. Ná verskeie hofverskynings is Jonkers skuldig bevind en gevonnis. Die hof het hom ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Kol. Diketso Lekgwathi, die waarnemende distrikskommissaris van die Namakwa-distrik, het die vonnis verwelkom. Willemse is vir sy deeglike ondersoek en toewyding om te verseker dat geweldsmisdade teen kinders doeltreffend vervolg word en oortreders aanspreeklik gehou word, geprys.





