Daar is twee franchises in Hollywood wat ’n kultus-aanhang het: Star Wars en Star Trek. Ek weet nie van jou nie, maar ek is nie ’n groot aanhanger van enigeen nie. Tog wil ek ’n voorbeeld gebruik uit die groter en meer bekende een: Star Wars.
In die reeks en flieks is daar ’n groep wat bekend staan as die “Resistance” – ’n leër van vryheidsvegters onder leiding van Leia Organa wat teen die Eerste Orde se tirannie staan. Kortliks: Resistance = goeie ouens; Eerste Orde = slegte ouens.
Het jy geweet dat die “Eerste Orde” in vandag se tyd ook werklik bestaan? Hulle word uitgewys in Efesiërs 6:12 as die “owerhede, magte, wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, en die bose geeste in die lug.” En aan hulle hoof staan natuurlik niemand anders as die vyand self nie – die Duiwel, of beter bekend as Satan – sowel as die komende Antichris.
Hulle uiteindelike doel is om die hele wêreld te verenig onder een wêreldgodsdiens, een wêreldregering en een geldstelsel, en om alle mense die merk van die dier te gee volgens Openbaring 13.
Nou weet ons dus wie die “slegte ouens” is. Die volgende vraag is: Wie is jy?
Is jy deel van die “Resistance”, of is jy die slagoffer wat op die draad sit tussen die kragte wat teen mekaar stry?
Dis interessant om te lees in 2 Thessalonisense 2:6 dat die Antichris deur iemand teruggehou word voordat hy openbaar kan word – en meeste teoloë glo dat dit die kerk is wat hom terughou. Die Engelse vertaling gebruik die woorde restrain en resist. Ek kan nie help om die kolletjies te verbind en te besef dat die kerk – ware gelowiges en volgelinge van Jesus – die werklike “Resistance” is nie.
Ons is nou bekend met die planne van die vyand, maar wat is die modus operandi van die “Resistance”?
Eenvoudig: jy moet die sout en die lig van die wêreld wees. Sout weerstaan die verrotting, en lig verdryf die duisternis. Jy is geroep om die vyand se vestings af te breek, sy planne te vernietig en elke versperring wat teen die kennis van God opgerig word, neer te werp – alles onder leiding van ons groot Bevelvoerder en Koning, Jesus Christus, terwyl ons groei in ons liefdesverhouding met Hom in die geloof.
Ja, ek glo saam met baie ander dat die einde van hierdie eeu naby is. Die Antichris sal kom, en die gelowiges sal weggeraap word voordat dit gebeur. Maar ek en jy kan nie net sit en wag dat alles afspeel nie – ons moet weerstaan.
Ons moet teëhou, ons moet resist, sodat die volle getal gelowiges kan inkom voordat die laaste trompet blaas!
My vraag aan jou:
Is jy deel van die “Resistance”?





