KAAPSTAD. – Met Diwali, die Hindoe-fees van ligte, wat op 20 Oktober plaasvind en Guy Fawkes op 5 November, is die Stad Kaapstad se wetstoepassingsdienste gereed om op te tree teen die onwettige verkoop en aansteek van vuurwerk.
JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê in ‘n verklaring vuurwerk is slegs toegelaat waar formele aansoeke goedgekeur is. Die verkoop daarvan word gereguleer; enigiets anders is onwettig. Personeel sal teen oortreders optree. Die Stad herinner inwoners dat geen aangewese areas vir vuurwerk met Diwali, Guy Fawkes of Nuwejaar beskikbaar is nie, en dat ’n permit vir enige vertoning nodig is. Geen persoon onder 16 mag vuurwerk hanteer nie. Die gebruik van luglanterns bly verbode.
In die afgelope week het Metro-polisiebeamptes 114 mense in hegtenis geneem, terwyl verkeersbeamptes 32 283 verkeersoortredings aangeteken en 22 inhegtenisnemings gemaak het. Wetstoepassingsbeamptes het 149 inhegtenisnemings uitgevoer en 11 736 kennisgewings uitgereik.
Druk hier om meer te lees.





