NOORD-KAAP. – ‘n Ma (21) van Keimoes is onlangs deur die plaaslike landdroshof aan mishandeling van haar seun (5) skuldig bevind en tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens die hof het maatskaplike werkers op 7 Julie 2023 ‘n verslag van kindermishandeling gekry – dat die vrou haar kind met sigarette gebrand en fisies aangerand het. Gedurende November 2024 het die kind se ouma dit by die polisie aangemeld, aangesien die mishandeling voortgeduur het.
Die polisie het ondersoek ingestel. Speur.konst. CC Beukes van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele aanranding (GKS) op Kakamas het ingegryp, wat tot die suksesvolle afhandeling van die kindermishandelingsaak gelei het.
Ehlers sê die ma is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit of met kinders te werk.





