VRYSTAAT. – Sabata Mariti, ‘n selfverklaarde pastoor, is Maandag deur die Virgina-streekhof tot 55 jaar tronkstraf gevonnis nadat drie kwesbare jong vrouelidmate, tussen 13 en 23 jaar, verkrag is.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Mariti is vir dire verkragtingsake gevonnis. Marelize Nel, staatsaanklaer, het aangevoer Mariti het sy gesag as pastoor misbruik om kwesbare jong vroue, in sy “Team of Prophecy” te misbruik. Drie meisies is tydens ’n naggebedsessie in Julie 2022 na Mariti se slaapkamer gelok, waarna die een ná die ander ondanks hulle gesmeek en met dreigemente teen hulle familie, verkrag is.
Mediese verslae en WhatsApp-boodskappe is as getuienis aangebied. Mariti het ’n sameswering deur die ANC-vroueliga beweer, maar die hof het dit verwerp. Volgens Nel is daar geen versagtende omstandighede nie. Mariti se dade is as “vernederend, afstootlik en wreedaardig” bestempel. Een slagoffer het selfs selfdood oorweeg.
Mariti is op aanklag 1 – 20 jaar, aanklag 2 – 15 jaar en aanklag 3 – 20 jaar gevonnis. Hy sal effektief 55 jaar tronkstraf uitdien.





