Brekende Nuus
Afrikaans

Universiteit in rou oor 5 studente wat binne 3 weke sterf

Foto: Ter illustrasie
Foto: Ter illustrasie

OOS-KAAP. – Die Nelson Mandela-universiteit se gemeenskap is in rou oor die verlies van vyf studente oor ’n tydperk van drie weke. Enhle Mboza (B.A. tweedejaar), Lihle Shenxane (Hoër Sertifikaat Inligtingstegnologie), Aphile Jozana (Hoër Sertifikaat Besigheidstudies), Minenhle Hlongwane (B.A. Reg tweedejaar) en Sikhunjulwe Nkewana (Diploma in Logistiek derdejaar) het gesterf.

Die universiteit sê in ‘n sosialemediaplasing Mboza het op 31 Oktober selfdood gepleeg. Shenxane en Jozana het dieselfde middag by Victoriabaai, George, gaan swem, waar Shenxane verdrink het. Jozana is kritiek beseer en is later oorlede.

Hlongwane is twee weke gelede tydens ’n rooftog in Summerstrand, Gqeberha, met ‘n skerp voorwerp gesteek en het gesterf. Nkewana is net meer as ’n week gelede leweloos in sy kamer in Central, Gqeberha, gevind.

Prof. Sibongile Muthwa, visekanselier, het gesê: “Ons rou saam met die families en bied ondersteuning aan almal wat geraak is deur die Emthonjeni-studenteberadingsdiens.”