KWAZULU-NATAL. – Twee werkers is Maandagmiddag ernstig beseer in ’n ontploffing by ’n elektriese substasie in Old Howickweg, in die Pietermaritzburg-omgewing.
Volgens inligting van Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance Services het die voorval omstreeks 12:00 plaasgevind. Dié diens het twee kontrakteurs aangetref wat aan die substasie gewerk het, toe dit ontplof het. Een werker is in ’n kritieke toestand nadat hy ernstige brandwonde oor sy rug en arms opgedoen het. Gevorderde lewensondersteuning is toegepas. ’n Tweede werker het ernstige brandwonde aan albei arms opgedoen. Albei pasiënte is op die toneel gestabiliseer en daarna na ‘n hospitaal vervoer.
Die polisie en die brandweer het saam met noodpersoneel op die toneel gewerk en die gebied beveilig. Die oorsaak van die ontploffing word tans deur die betrokke owerhede ondersoek.





