GAUTENG. – ‘n Gr. 11-leerling van Hoërskool Dr. Harry Gwala, ‘n gr. 6-leerling van Laerskool Thembelihle, hulle babasussie (1) en twee ouers het Sondagaand in ’n huisbrand in die Steve Biko-nedersetting in Etwatwa, Ekurhuleni, gesterf.
Steve Mabona, GDO-woordvoerder, sê die gesin was vasgekeer in die brand. Skoolhoofde en amptenare van albei skole het Maandagoggend die gesin se huis besoek om meegevoel te betoon en meer inligting by die oorlewende familielid, bure en verwantes in te samel.
Die departement se psigososiale ondersteuningspanne het vandag (11 November) die skole besoek om berading en emosionele ondersteuning aan leerlinge, onderwysers en die breër skoolgemeenskap te bied.
Matome Chiloane, LUR vir die GDO, het sy medelye met die gesin en skoolgemeenskappe betoon. “Ons is diep geraak deur die verlies van hierdie jong lewens en hul ouers. Ons gedagtes is by die familie, vriende en skole in hierdie moeilike tyd, en ons sal voortgaan om ondersteuning te bied.”





