LIMPOPO. – Vyf mans, tussen 25 en 35 jaar oud, is deur die Haenertsburg-polisie in hegtenis geneem vir die moord op ‘n man (22) by ’n rehabilitasiesentrum in Spitskop, Ga-Mamabolo.
Luidens ‘n verklaring deur kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, het vyf inwoners van die sentrum Maandag omstreeks 10:00 van die terrein ontsnap. ’n Veiligheidsbeampte het die groep glo opgespoor en na die sentrum teruggeneem. Met hulle terugkeer is hulle na bewering met verskeie voorwerpe aangerand, wat tot ernstige beserings gelei het. Een van die mans is op die toneel aan sy beserings dood. Die oorlewendes is na ‘n hospitaal vir mediese behandeling geneem.
Haenertsburg-speurders het Woensdag saam met Mopane-hoofwegpatrollie en opsporingseenhede ‘n operasie uitgevoer waartydens die verdagtes in hegtenis geneem is. Hulle word van moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer, aangekla. Daar is ook bevind dat die rehabilitasiesentrum onwettig funksioneer.
Die verdagtes sal vandag in die Tzaneen-landdroshof voorkom. Verdere inhegtenisnemings word nie uitgesluit nie.





