MPUMALANGA. – Roanè Griffin (4) is tans in die Netcare Alberton-hospitaal waar sy ná ‘n ernstige ongeluk op 14 November op die Amersfoortpad, buite Ermelo, behandel word. Duney, haar sussie, is in die Ermelo Mediclinic opgeneem en herstel goed. ‘n Pa en ouma het op die ongelukstoneel gesterf.
Douwlene Griffin het op sosiale media gesê: “Help Roanè, Vrydag het als normaal begin. Sy kort almal se gebede en hulp op alle vlakke. Prys die Here Duney en Roanè leef.”
Appel, bekende sanger, sê in ‘n sosialemediaplasing Roanè Griffin, wat altyd besig is, altyd lag en lief is vir haar hondjie en haar kleuterskoolmaats, is tans in die pediatriese trauma-eenheid by Netcare Alberton. waarheen sy per helikopter gevlieg is en vir veelvuldige frakture en ernstige inwendige beserings behandel word. Volgens inligting uit die mediese span word sy tans stadig met klein hoeveelhede vloeistof deur ’n voedingsbuis gevoed en sal verdere operasies nodig wees sodra haar toestand dit toelaat. Duney sal na verwagting binnekort ontslaan word.
“Hulle ma staan nou alleen. Begrafnisse. Hospitale. Reis. Verblyf. Mediese uitgawes. Die sorg vir twee kinders waarvan een in ‘n kritieke toestand is. Geen mens kan dit sonder hulp dra nie. PAS Prokureurs het ’n trustfonds vir Roanè geopen. Die trust word gratis bestuur en alle donasies gaan direk na haar mediese sorg en die gesin se noodsaaklike koste,” sê Appel.
Die gemeenskap het sedert die ongeluk groot steun aan die gesin betoon.








