NOORDWES. – ‘n Bejaarde man (79) is Vrydagoggend dood op die plaas Korannafontein, naby Ottosdal, aangetref. Die polisie het bevestig dat ‘n saak van roof en moord ondersoek word.
Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits ‘n egpaar het die oggend hul woning verlaat, met niemand by die huis nie. Die vrou het omstreeks 16:20 teruggekeer en haar 79-jarige skoonpa, wat op ’n buurplaas gewoon het, dood op die stoep aangetref. Hy het ‘n steekwond aan sy nek gehad. Sy het haar man in kennis gestel, wat onmiddellik huis toe gegaan het. Die egpaar het daarna opgemerk dat die huis deurgesnuffel is en verskeie items vermis word. Die kluis was ook oopgeforseer, maar geen vuurwapens is gesteel nie.
’n Ondersoek is aan die gang; niemand is nog in hegtenis geneem nie.





