OOS-KAAP. – ’n Polisiebeampte se koeëlvaste baadjie het Maandag sy lewe tydens ’n skietery op die R61 by Ntafufu, buite Lusikisiki, gered. Twee vermeende dwelmhandelaars is doodgeskiet.
Volgens polisiewoordvoerder lt.kol. Siphokazi Mawisa het polisiebeamptes inligting ontvang oor ’n groen VW Polo sonder ‘n agterste nommerplaat, waarin twee vermeende dwelmhandelaars gery het. Die voertuig is in die rigting van Port St Johns gevolg en toe die polisie dit op die kronkelpaaie gewaar, is daar probeer om dit te stop. Die bestuurder het nie aan die bevel gehoor gegee nie en ’n jaagtog het gevolg. Toe die polisie probeer om die voertuig af te sper, het die insittendes na bewering op die beamptes begin skiet. Die polisie het teruggeskiet en beide verdagtes noodlottig gewond. ’n Polisielid is in die bors getref, maar sy koeëlvaste baadjie het die skoot afgeweer en hy is nie beseer nie. Die polisievoertuig is deur koeëls beskadig.
Tydens die ondersoek is ’n 9 mm-pistool, met ‘n storing (blokkasie) in die kamer van die pistool, sowel as dwelms, in die voertuig gevind. Twee sake van geregtelike doodsondersoeke, asook poging tot moord, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie en opsetlike saakbeskadiging is oopgemaak.
Die saak sal vir verdere ondersoek na die onafhanklike polisie ondersoekdirektoraat (Opod) verwys word.





