NOORDWES. – Die nasionale seereddingsinstituut (NSRI) doen ’n dringende beroep op die publiek om nie sommer bote of ander vaartuie op die Hartbeespoortdam te lanseer nie. Dit is weens die gevaarlike toestande wat veroorsaak word deur uitermatige groei van die indringerplantspesie Pontederia crassipes (waterhiasint).
Volgens die NSRI bedek dik, drywende matte van waterhiasint tans groot dele van die dam en die bedekking neem vinnig toe soos die somer aanbreek. Verandering in wind dryf hierdie plante onvoorspelbaar oor die water, wat gevaarlike en veranderlike omstandighede vir bootvaarders skep.
Arthur Crewe, stasiebevelvoerder van NSRI-Hartbeespoort, sê die publiek moet deeglik nadink voordat hulle op die dam uitvaar. “As jou boot in die hiasint vasval, is die reddingsopsies baie beperk. Selfs ons reddingsvaartuie ly skade wanneer ons probeer deurkom en sommige reddings word uiters moeilik,” het hy gesê.
Die gevaar sluit vaartuie in wat in digte waterhiasint vasval en nie na die wal kan terugkeer nie. Enjins oorverhit of breek weens die digte plantegroei en rommel in die water. Verborge gevare, soos onwettige visnette en drywende voorwerpe, wat in die waterhiasint verstrengel raak, kan onder die wateroppervlak skuil. Windverskuiwings laat die hiasintmassa skielik beweeg en sny toegangsroetes na oop water af.
Al bly NSRI-spanne gereed vir lewensbedreigende noodgevalle, waarsku hulle dat die risiko’s nie onderskat moet word nie. Crewe beklemtoon: “Om te lanseer sonder ’n duidelike begrip van waar die hiasint is en hoe vinnig dit beweeg, plaas nie net jou eie lewe in gevaar nie, maar ook dié van ons vrywilligers. Elke redding in hierdie toestande is gevaarlik en kan verdere skade aan toerusting veroorsaak.”
Indien jy wel verkies om ‘n boot op die dam te lanseer, moet weer- en windvoorspellings deeglik nagegaan word en die beweging van die waterhiasint noukeurig dopgehou word. Iemand moet oor jou presiese roete en verwagte terugkeertyd ingelig wees. Neem genoeg water en kos, asook beskerming saam vir die moontlikheid dat jy vasval. Hou altyd ’n gelaaide selfoon in ’n waterdigte sakkie by jou, dra ’n lewensreddingsbaadjie en gebruik die NSRI SafeTRX-toepassing.





