OOS-KAAP. – Vier mans, tussen 33 en 59 jaar oud, is Woensdag omstreeks 13:30 kort ná ’n huisroof in Theescombe, Gqeberha, in hegtenis geneem. Dit volg nadat ’n groep verdagtes glo ’n woning in Game Park-weg binnegedring en ‘n ma (45) en minderjarige seuns aangehou en kontant en waardevolle items geëis het.
Luidens ‘n verklaring van polisiewoordvoerder, kapt. André Beetge, het die verdagtes die ma en haar twee seuns in die huis vasgebind en daarna met kontant, juweliersware en drie selfone op die vlug geslaan toe die man by die huis opdaag.
Kabega Park-polisiebeamptes het die verdagtes in ’n aangrensende wildpark opgespoor en in hegtenis geneem. Tydens die ondersoek is ’n ongelisensieerde vuurwapen (rewolwer) by een van die verdagtes gevind, asook gesteelde goedere ter waarde van sowat R210 000. Die vuurwapen sal vir forensiese en ballistiese ontleding gestuur word. Die gesteelde items is aan die klaer terugbesorg.
Sake van huisroof en die onwettige besit van ’n vuurwapen word ondersoek. Die verdagtes sal Vrydag in die Gqeberha-landdroshof verskyn.




