LIMPOPO. – ’n Man (30) van Vleischboom het vlugtig op aanklagte van verkragting van ‘n bejaarde vrou (95) en diefstal in die Nebo-landdroshof verskyn. Die voorval het volgens die staat in die vroeë oggendure van 10 Januarie by die bejaarde vrou se huis in Vleischboom plaasgevind.
Volgens NVG-woordvoerder, Mashudu Malabi, word daar beweer dat die beskuldigde, ‘n familielid van die vrou, haar verkrag en daarna haar selfoon en R100 kontant gesteel het. Die man is kort ná die voorval in hegtenis geneem en die gesteelde selfoon is glo in sy besit gevind. Die saak is vir ‘n formele borgtogaansoek tot 22 Januarie uitgestel. Hy bly in aanhouding.
Luidens ‘n verklaring van polisiewoordvoerder, brig. Hlulani Mashaba, is die verdagte op 10 Januarie deur lede van die Hlogotlou-polisiekantoor in hegtenis geneem.
Die slagoffer het op die betrokke aand omstreeks 22:00 kos voorberei toe die verdagte haar glo met ‘n mes in haar huis oorval het. Die vrou is vasgebind, gesnoer en verkrag voordat die verdagte hom uit die voete gemaak het.





