WES-KAAP. – Hospitale in die Wes-Kaap gaan gebuk onder ‘n groot aantal pasiënte wat weens geweld mediese hulp benodig. Memory Booysens, DA-woordvoerder vir gesondheid en welstand, sê in ‘n verklaring tussen Junie en November 2025 is 3 111 mense weens skietwonde en 23 711 weens messteekbeserings in provinsiale hospitale opgeneem.
Die konstante toestroming van pasiënte plaas druk op noodafdelings en traumaklinieke, veral omdat baie van die beserings verband hou met vuurwapens, messe en bende-aktiwiteite. Die druk lei daartoe dat gesondheidswerkers oorwerk word en ander noodgevalle nie altyd betyds hanteer kan word nie. Booysen sê dat hoewel die provinsie steeds belê in gesondheidsdienste en noodhulp, die departement weens misdaad onder druk is. Daar word aanbeveel dat die polisie meer proaktief en intelligensie-gedrewe moet optree om bendes te ontwrig, onwettige vuurwapens te verwyder en geweld te voorkom voordat slagoffers in hospitale beland.
Booysen sê voorts gesondheidswerkers verdien veiliger werksomstandighede, gemeenskappe verdien beskerming en die gesondheidstelsel benodig verligting van die konstante toestroming van traumapasiënte weens geweld.





