Vroedvrou-spesialiste in Suid-Afrika word opgelei om gespesialiseerde vroedvroukundige sorg te lewer en konsentreer op natuurlike en veilige geboorteprosesse waar moontlik.
Lees ook: Verhoor teen voormalige vroedvrou, Yolande Maritz Fouchée, duur voort
Vroedvrou-spesialiste beskik oor gespesialiseerde kennis en vaardighede en het ‘n reeks protokolle en prosesse in plek vir die uitvoering van hulle beroep.
Uitdagings
Gesondheidsorg in Suid-Afrika is onder groot druk. Verpleegpersoneel word deur uitdagings soos lang werksure, personeeltekorte, hulpbrontekorte, groot pasiëntvolumes en hoë pasiëntverwagtinge in die gesig gestaar.
Vir vroedvroue in Suid-Afrika is dieselfde hoëdruk-situasies nie vreemd nie. Binne minute, soms sekondes, moet besluite geneem word. Hierdie besluite kan die gesondheid en selfs die lewe van ’n moeder en haar baba beïnvloed.
Toenemende medies-regtelik kwesbare posisie vir vroedvroue
Mediese litigasie neem wêreldwyd toe en word ’n groeiende uitdaging. Die eise wat met vroedvrouverwante toestande gepaard gaan, asook die veelvuldige verantwoordelikhede van die vroedvrouspan, dra by tot die moontlikheid van medies-geregtelike sake.
In Suid-Afrika is vroedvroue onderhewig aan streng regulasies, insluitend registrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleging (SANC). Dit is ’n vereiste en ’n kernverantwoordelik dat die vroedvrou professionele riglyne, etiese kodes en toepaslike wetgewing moet nakom.
Volgens data voorsien deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleging (SANC), het vroedvrouverwante sake in 2021 ongeveer 30% van alle professionele gedragsake uitgemaak wat aangehoor is en wat verpleegkundiges en vroedvrou-spesialiste betrek het. Hierdie sake maak dus ’n groot deel van professionele sake uit en kom nou ook al hoe meer onder die soeklig.
Wanneer dinge verkeerd loop, word daar ondersoek ingestel na die idenifisering en bestuur van risikofaktore en word die vraag gevra – Was alle professionele riglyne nagekom?
Vroedmeester en verpleegspesialis Sydney Grové, ‘n hoog aangeskrewe leier in Suid-Afrikaanse verpleging, sê dat foute wel kan insluip en “niemand is perfek nie. Baie faktore, paniek en selfs hoë emosionele pasiëntverwagtinge kan ’n vroedvrou se oordeel beïnvloed.”
Pasiënte het ook groter bewustheid van hulle regte en het meer toegang tot regsverteenwoordiging. Baie dikwels is aanklagte ook opportunisties.
Grové is onder andere ook ‘n deskundige getuie in die hooggeregshowe in Suid-Afrika.
Vroedvrou medies-regtelike risiko-seminaar
Grové, stigter van GroveMedi Consulting, (Grove Medi-Consulting Pty Ltd) , ’n ondderrig-fasiliteitsonderneming vir verpleeg- en vroedvroupersoneel, het ’n passie vir opleiding en die beroep van verpleegkunde.
“Ek wil ’n verskil maak,” gesels Grové oor sy keuse in loopbaanrigting.

Hy het as klein seuntjie reeds ’n belangstelling getoon in die rigting en het uiteindelik in sy ouma, ’n voormalige vroedvrou, se spore gevolg. Een van sy gunstelingtydverdrywe as kind was om dooie verkleurmannetjies oop te sny “en te soek na die babas.” Hy vertel laggend dat dit gewoonlik gepaard gegaan het met ’n loesing.
Grové het al meer as 25 000 babas in sy loopbaan in die lewe gebring. Hy is ‘n geregistreerde assessor en moderator by die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleging en beskik oor uitgebreide ervaring in vroedvroukunde, kliniese fasilitering en gesondheidsorgkonsultasie, ingesluit voorgeboortebeplanning en swangerskapvoorbereiding.
Hy spreek die probleem aan van ‘n tekort aan opleiding en mentorskap. “Dit is grotendeelds die oorsaak van die groot aantal medies-regtelike sake wat tans in die howe hanteer word.”
Op 13 Februarie 2026 fasiliteer Grové ‘n vroedvrou medies-regtelike risikoseminaar in Kaapstad, “die eerste van sy soort,” sê hy. Vir Grové lê die seminaar hom na aan die hart en is iets wat broodnodig is in die veld van vroedvrouparktyke.
Tydens die geleentheid sal verskeie punte aangeraak word, nie net deur Grové nie, maar ook mediese regskenners, Justin Malherber en Annemie Greeff. Die seminaar se hoofborg, Nutricia, sal ook ’n praatjie lewer en “’n pediatriese dieetkundige, Kath Megaw, gaan ook insette lewer,” verduidelik Grové.
Punte van bespreking is onder andere
- Emosionele intelligensie
- Die wetlike en regsaspekte van vroedvroupraktyk
- Die vroedvroukrisis
- Rekordhouding
- Begrip van die regstelsel vir vroedvroue
- Insidentverslae
- Verloskundige noodsituasies
Deurentyd sal beeldmateriaal gewys word.
Om te bespreek, stuur ’n e-pos na: [email protected] of kontak: 021 0018 195

Ten slotte
Vroedvroue bevind hulself in ’n toenemend ligitasie-gedrewe omgewing en kan dit nie bekostig om onbewus te wees van hulle medies-geregtelike verantwoordelikhede nie.
Die onus berus op die vroedvrou om aanspreekliheid te aanvaar, maar ook vertroue met die pasiënt en die gesondheidsorgstelsel as geheel te behou. Die seminaar is dus van groot nut en waarde vir enige gekwalifiseerde vroedvrou.
Grove sê ten slotte dat kennis, voorbereiding en etiese praktyk die beste beskerming bly.
”Volg die voorgeskrewe protokols van die inrigting waar jy werksaam is, asook die regualsies van die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleging.”
Bronne:
https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC12067625
https://www.grovemediconsulting.com





