MPUMALANGA. – ‘n Brand het vandag (Donderdag) omstreeks 12:00 by die Schoemansdal-polisiekantoor uitgebreek in twee houers en word ondersoek.
Volgens brig. Donald Mdhluli, provinsiale polisiewoordvoerder, is die brand in die twee kantore opgemerk terwyl alle personeel aan diens was. Geen beserings is aangemeld nie. Albei die kantore en ander items het skade opgedoen. Nooddienste en die brandweer het vinnig gereageer en die vlamme geblus om verdere skade te voorkom. Die oorsaak van die brand word tans deur ’n span kundiges ondersoek wat deur die waarnemende provinsiale kommissaris aangewys is.
Die polisie sê dienslewering aan die gemeenskap sal nie onderbreek word nie. Enigiemand met relevante inligting oor die voorval, word versoek om na vore te kom.





