VRYSTAAT. – Mmadita Ramabele (22) is deur die Vrystaat-hooggeregshof tot effektief 30 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Ramabele en haar lewensmaat het haar nefie (3) en ‘n boer (52) van Charlspost-plaas doodgemaak.
Ramabele het skuld erken op aanklagte van ontvoering, twee van moord, twee van verkragting, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Die misdade is tussen 28 November 2024 en 8 Desember 2024 op Reddersburg, Goedemoed, Rouxville, Smithfield en omliggende gebiede gepleeg.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-streekwoordvoerder, sê aan Nuusflits die vonnis volg op ’n pleit- en vonnisooreenkoms ingevolge artikel 105A van die strafproseswet. Volgens hofstukke het Ramabele op 28 November 2024 haar driejarige nefie onder die voorwendsel geneem dat sy familie sou besoek, maar het hom nie teruggeneem nie. Sy het erken dat sy die kind saam met haar lewensmaat, Tebello Isaak Ntomane, aangerand het, wat tot sy dood gelei het. Sy het later die polisie geneem na waar die kind se liggaam gevind is.
Op 7 Desember 2024 het Ramabele en haar lewensmaat glo ’n boere-egpaar op Charlspost-plaas in Rouxville aangeval. Die man is tydens die roof doodgeskiet. Sy vrou is gedreig en verkrag en is gedwing om tussen verskeie dorpe te ry om geld te onttrek. Ramabele het erken dat sy by die misdade betrokke was en wag gehou het tydens die aanval. Die paar is later by ’n padblokkade voorgekeer. Ramabele het oorgegee, terwyl haar lewensmaat probeer vlug het en doodgeskiet is.
Die hof het Ramabele se ouderdom, haar status as eerste oortreder, die tyd wat sy in aanhouding deurgebring het en haar samewerking met die polisie in ag geneem. Die hof het bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede was om van die minimum vonnisse af te wyk. Alhoewel Ramabele op elke aanklag swaar vonnisse ontvang het, sal die strawwe gelyktydig uitgedien word, wat ’n effektiewe 30 jaar gevangenisstraf tot gevolg sal hê.
Nuusflits het voorheen berig die polisie is die betrokke Sondagoogend omstreeks 07:00 deur die gemeenskap van ‘n moontlike plaasmoord ingelig. Met die polisie se aankoms is die boer se liggaam met ‘n skietwond in die kop aangetref. Daar is later vasgestel sy vrou is tydens die aanval ontvoer.
Met samewerking van E2-rolspelers en die polisie is ‘n voertuig wat glo tydens die aanval gesteel is in die Tierpoort-gebied opgespoor. Die Bloemfontein-blitspatrollie het die voertuig met vier verdagtes en die vrou binne-in opgespoor. Sy is gered en het mediese behandeling ontvang.
Tydens die reddingspoging is vier verdagtes gearresteer – twee vroue en ‘n man is vir ondervraging ingeneem. Nog ‘n verdagte is gewond en het in ‘n hospitaal gesterf. Beslag is gelê op vuurwapens wat in die voertuig gevind is.

