NOORDWES. – ’n Man (35) sal na verwagting op aanklag van moord in die Groot Marico-landdroshof verskyn nadat die liggame van twee kleuterseuns, boeties van 1 en 3 jaar oud, Saterdag dood in bosse langs ’n rivier by Skuinsdrift-Tshwaro-plase naby Groot Marico in Noordwes gevind is.
Sers. Kelebogile Morake, polisiewoordvoerder, sê nood- en reddingsdienste het die kinders, wat verskeie beserings gehad het, op die toneel dood verklaar. Voorlopige inligting dui daarop dat die pa die kinders vroeër by hul ouma gaan haal het terwyl hul ma kerk toe was. Daar word beweer die ouers het vroeër ’n argument gehad en die pa het glo gedreig om die kinders dood te maak. Hy is Soondag met die hulp van die gemeenskap opgespoor en in hegtenis geneem.
Genl.maj. Ryno Naido, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die samewerking tussen die polisie en die gemeenskap, wat tot die inhegtenisneming gelei het, geprys. Hy het gesê die voorval wys weer hoe ernstig huishoudelike geweld kan wees en het mense aangemoedig om hulp te soek as hulle in gewelddadige verhoudings is.





