WES-KAAP. – Shahida Nathan (21), wat agt maande swanger was, is in Junie 2020 tydens bendegeweld in Scottsdene, Kraaifontein doogeskiet. Die Kaapstad-hooggeregshof het Jeremia Fortuin en Ricardo Cloete aan Nathan se moord skuldig bevind en die Ferodo-bendelede lewenslange tronkstraf opgelê – saam meer as 100 jaar direkte gevangenisstraf vir die moord en die poging om ses ander mense dood te maak.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die hof het bevind dat die twee mans lede van die Ferodo-bende is en dat die aanval plaasgevind het tydens ’n bendeoorlog oor onwettige dwelmhandel. Die slagoffers is glo verkeerdelik as lede van ’n mededingende bende geïdentifiseer. Volgens die staat het die beskuldigdes twee vermeende lede van die Mobster-bende, Alfredo Titus en Ridwaan Smith, tot by ’n erf in Klipbokstraat agternagesit. Hulle het daarna op ‘n woonplek in die agterplaas losgebrand, waar Nathan en ander mense gesit en kuier het. Die vermeende Mobster-lede was egter in die hoofhuis. Nathan is noodlottig gewond, terwyl twee mans ook beseer is.
Ntabazalila sê voorts nege aktiewe bendegroepe is in die Kraaifontein-gebied aktief, waarvan Ferodo in die Zoo-gebied, wat Klipbok- en omliggende strate insluit.
Albei mans het op die aanklagte teen hulle onskuldig gepleit en ontken dat hulle op die toneel was, maar die hof het bevind die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys en hul weergawes verwerp. Fortuin is op tien aanklagte, insluitend moord, ses aanklagte van poging tot moord, bendelidmaatskap en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie skuldig bevind. Hy is tot lewenslange tronkstraf plus 107 jaar gevonnis, maar die addisionele vonnisse sal saam met die lewenslange straf uitgedien word. Cloete is tot lewenslange tronkstraf plus 96 jaar op soortgelyke aanklagte, buiten die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, gevonnis .
Adv. Nicolette Bell, die direkteur van openbare vervolgings in die provinsie, het die ondersoekspan en getuies geprys vir hul rol in die saak en gesê gemeenskappe moet saamstaan om bendegeweld hok te slaan.





