KWAZULU-NATAL. – ’n Bejaarde vrou, in haar 70’s, is Saterdagmiddag ernstig beseer toe sy deur twee honde in Scottsville, Pietermaritzburg, aangeval is.
Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance Service sê dié diens is omstreeks 13:30 na Christiestraat ontbied. Die vrou was glo te voet onderweg na Scottsville Mall toe die honde uit ’n nabygeleë erf ontsnap het. Paramedici het haar in ’n ernstige toestand aangetref met onder meer ’n groot bytbesering aan die gesig. Sy is op die toneel behandel en gestabiliseer voordat sy na ’n hospitaal geneem is vir verdere chirurgiese spesialisbehandeling.
Volgens inligting het die honde by die hek uitgebars toe dit deur ‘n huisoppasser oopgemaak is wat by die huis opgedaag het. Hulle het die vrou bestorm en haar aangeval. Inwoners word gemaan om hul diere onder beheer te hou en seker te maak hekke is veilig, veral wanneer dit oopgemaak word, om sulke voorvalle te voorkom.





