GAUTENG. – Die sesde Suid-Afrika Beleggingskonferensie (SAIC) word van vandag af, 30 Maart, in Sandton aangebied en bring afgevaaardigdes van meer as 50 lande saam. Die konferensie, wat sedert 2018 gehou word, is ’n belangrike platform om Suid-Afrikaanse projekte in sektore soos mynbou, motorvervaardiging, gesondheidsorg en hernubare energie aan beleggers voor te lê.
President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se gediversifiseerde ekonomie, stabiele beleidsomgewing en hervormings onder Operation Vulindlela maak die land ’n aantreklike bestemming vir beleggers. Sedert die eerste konferensie is meer as R1,57 triljoen in beleggingsbeloftes verseker. Hierdie beloftes het gelei tot meer as 300 projekte, waarvan 161 reeds voltooi of in aanbou is, soos die Platreef-myn in Limpopo en die BMW-aanleg in Rosslyn. Hierdie projekte het duisende werksgeleenthede geskep en die plaaslike gemeenskappe bevoordeel.
Die ekonomie toon herstel met vier opeenvolgende groeikwartale teen die einde van 2025, stabilisering van staatskuld, werkskepping en ’n verbeterde kredietgradering. Suid-Afrika se doel vir die volgende fase is om teen 2028 sowat R2 triljoen in nuwe beleggings te lok en verdere projekte te implementeer wat werk en groei vir die land se mense skep.
Druk hier om meer te lees.





