KWAZULU-NATAL. – Konst. Luyanda Mgcini Sigwebela van die openbare orde-polisiëringseenheid in KwaZulu-Natal is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis vir strafbare manslag ná die dood van ’n kollega. Die vonnis is vir vyf jaar opgeskort.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê die voorval het op 14 Junie 2025 in Thornville, Pietermaritzburg plaasgevind, waar die konstabel saam met sy kollega, Ntethelelo Gift Zondo, in ’n motor gesit het. ’n Skoot het per ongeluk afgegaan toe hy sy vuurwapen verkeerd hanteer het met die uitklim uit die voertuig. Zondo is noodlottig deur die koeël gewond.
Aanvanklik het die beskuldigde beweer dat Zondo homself met sy vuurwapen geskiet het. ’n Ondersoek deur Opod het egter bevind dat dit nie moontlik was nie, aangesien die hoek en baan van die koeël nie met ‘n selfskoot ooreenstem nie, soos bevestig deur nadoodse en ballistiese verslae.
Die hof het verder gelas dat die konstabel R150 000 aan die oorledene se familie moet betaal, waarvan R50 000 onmiddellik en die res in paaiemente betaal moet word. Die hof het beslis dat die konstabel nie gevangenisstraf sal uitdien nie, mits hy nie binne die opskortingstydperk weer aan ’n soortgelyke oortreding skuldig bevind word nie.





