Action SA wil weet waarom Opod-aanbevelings oor Phala Phala nie toegepas is nie

Lees ook :

Foto: Skermgreep van verslag soos bekom en gepubliseer deur ActionSA

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het aanbeveel dat dissiplinêre stappe ingestel word teen twee polisiebeamptes ná ’n ondersoek na beweerde wangedrag wat verband hou met die Phala Phala-saak. Michael Beaumont, ActionSA- nasionale voorsitter, sê die verslag wat deur die party bekom en gepubliseer is, is reeds in Oktober 2023 voltooi, maar daar was nog geen optrede teen die betrokke beamptes geneem nie en hulle vra ‘n dringende ondersoek.

Die Opod-ondersoek het op genl.maj. W.P. Rhoode en konst. H.H. Rekhoto gefokus wat moontlik betrokke was by verskeie oortredings, insluitend die versuim om ’n misdaad aan te meld, die uitvoer van onwettige ondersoeke en die misbruik van staatsbronne. Die ondersoek het bevind dat die twee beamptes glo nie ’n beweerde diefstal by die president se plaas volgens die korrekte prosedures aangemeld het nie. In plaas daarvan sou hulle self ondersoeke ingestel het sonder dat ’n formele saak by ’n polisiekantoor geregistreer is.

Verder word beweer dat staatsbronne, insluitend personeel en vir reisuitgawes, gebruik is vir doeleindes buite hul amptelike mandaat. Opod sê daar is ook aanduidings dat reise en werksopdragte onder valse voorwendsels goedgekeur is, wat moontlik op onreëlmatige besteding dui. Voorts het die ondersoek bevind dat daar moontlik onwettige optrede was, soos die ondervraging van verdagtes sonder behoorlike regsprosedures en die hantering van ’n saak sonder die nodige registrasie en toesig. Opod het beklemtoon dat die optrede van die betrokke lede die beeld van die polisie kan skaad en moontlik in stryd is met verskeie regulasies en wetgewing, insluitend die polisiewet en dissiplinêre kodes. Die direktoraat wag nou op terugvoer oor wanneer en hoe dissiplinêre stappe teen die betrokke beamptes ingestel sal word.

ActionSA sê hulle het uiteindelik daarin geslaag om dié verslag van Opod te bekom, wat ernstige bevindings bevat teen lede van die presidensiële beskermingseenheid (PPU) ná die omstrede Phala Phala-skandaal. ActionSA hou vol dat die vrystel van die verslag noodsaaklik was om deursigtigheid te bevorder en sê hulle sal voortgaan om die regering aanspreeklik te hou. Beaumont sê die verslag is reeds in Oktober 2023 voltooi, maar dat daar tot dusver geen optrede teen die betrokke beamptes geneem is nie. Hy voer aan dat dit vrae oor aanspreeklikheid binne die polisie en regering laat ontstaan. ’n Ongemagtigde ontmoeting is selfs met Namibiese amptenare naby Upington gereël, waarby Bejani Chauke betrek is. ActionSA sê verder dat die president se naam na bewering tydens die ondersoek gebruik is om druk op wetstoepassers uit te oefen, wat volgens hulle die erns van die saak laat verdiep.

Die party het aangekondig dat hul parlementêre span skriftelik versoek dat portefeuljekomitees oor die presidensie en polisie ’n dringende ondersoek instel na waarom die Opod-aanbevelings nie geïmplementeer is nie.

Druk hier om die Opod-verslag te lees.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief