OOS-KAAP. – ’n 30-jarige man en ’n 65-jarige vrou is Donderdagmiddag in Cikolostraat, Wells Estate in die Oos-Kaap doodgeskiet. Die man is met verskeie skietwonde in die passasiersitplek van ‘n motor aangetref, terwyl die vrou, wat in ‘n rolstoel was, ook noodlottig gewond is.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê die polisie is omstreeks 17:00 na die toneel ontbied nadat skote aangemeld is. Met hul aankoms het beamptes die twee slagoffers langs en in ’n wit VW Polo aangetref. Die man het in die passasiersitplek gelê en die vrou was in ‘n rolstoel langs die voorste passasiersitplek. Albei die voordeure van die voertuig en die linkeragterdeur was oop. Sowel die man as die vrou is op die toneel dood verklaar.
Die motief vir die aanval is nog onbekend en geen inhegtenisnemings is tot dusver gemaak nie. Die identiteit van die oorledenes sal bekend gemaak word sodra hulle formeel uitgeken is.
‘n Saak van dubbele moord word deur die polisie ondersoek. Enigiemand met inligting wat die polisie in hulle ondersoek kan help, word gevra om na vore te kom. Kapt. Roland Pieterse kan by 082 442 1684 en sers. Riedwaan Wessels by 082 442 1099 gebel word.




