Ek kyk die naweek ’n fliek op Netflix oor ’n Joodse man en ’n Afro-Amerikaanse vrou wat verlief raak en wil trou. Daarmee saam kom daar natuurlik groot kulturele botsings en spanning tussen die twee families. Maar gelukkig eindig dit met ’n “happy ending” ná al die drama.
En dit laat my wonder: is dit ’n goeie of ’n slegte ding? En wat sê die Bybel daaroor?
Eerstens: die Bybel is glad nie teen verhoudings tussen mense van verskillende rasse gekant nie—al dink baie mense so op grond van die Ou Testament, waar die Jode beveel is om nie met die seuns en dogters van heidense nasies te trou nie. Die rede daarvoor het egter niks met velkleur of ras te doen gehad nie, maar met afgodediens. Trouens, ons sien dat die Wet voorsiening maak vir nie-Jode om deel te word van die volk, mits hulle God se wette en verordeninge volg. ’n Goeie voorbeeld is die Ethiopiërs wat ook aanvaar is.
Tweedens: al leef ons nie meer onder die Ou Testament nie, maar onder die Nuwe, kan ons steeds kyk na die beginsels wat daar geld vir huwelike, sakevennootskappe en selfs noue vriendskappe.
In 2 Korintiërs 6:14 staan:
“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?”
In kort: nêrens word iets gesê oor velkleur of ras nie. Die enigste duidelike vereiste is dat albei partye gelowig moet wees. So eenvoudig soos dit.
My ander vraag is: is dit ’n goeie of ’n slegte ding? Jy mag dalk met my verskil, maar persoonlik glo ek dit is nie net goed nie—dit is noodsaaklik.
Ons menslike natuur trek ons na mense wat soos ons dink, lyk en optree. Ons is geneig om natuurlike grense tussen mekaar op te rig—en ras is ongelukkig een van die sterkste voorbeelde daarvan.
Ek was my laaste twee jaar op skool in Paarl Gimnasium. Alhoewel ek nie een leerling van Boys High persoonlik geken het nie, was daar ’n natuurlike vyandigheid teenoor hulle. Hulle was ons grootste mededingers in sport, en die jaarlikse interskole was só groot dat dit tot vandag toe nog uitgesaai word.
Maar ek kan jou vandag belowe: as ek nou ’n klomp van hulle moet ontmoet en werklik leer ken, sal daar heel moontlik goeie vriendskappe ontstaan. En dis die geheim—ons moet die grense afbreek en mekaar leer ken.
Kom ons maak dit nog meer prakties: Daar is twee families—een wit en een bruin—en albei is sterk in hul oortuigings en ongelukkig effens rassisties teenoor mekaar. Jy sal hulle nooit saam oor ’n naweek om dieselfde vuur sien sit nie, al sal hulle mekaar in die openbaar hoflik behandel.
Hoe kry jy hierdie twee groepe bymekaar? Hoe bou jy begrip, empatie en ware verhoudings? Dit gebeur selde vanself.
Tensy… ’n seun en ’n dogter uit hierdie twee families verlief raak en besluit om te trou.
Skielik word almal gedwing om nader te beweeg. Ja, dit skuur. Ja, daar kan konflik wees. Maar grense word oorskry wat vroeër ondenkbaar was. En in daardie proses—daardie “skuur en slyp”—leer mense mekaar ken. Begrip groei. En versoening, selfs ná jare se skeiding, word moontlik.
Het Jesus nie gesê dat God die wêreld met al sy volke, tale en nasies so lief gehad het dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het nie, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê?
Ons gaan eendag vir ewig saam met God wees. Hoekom sou dit dan nie ook Sy wil wees dat ons reeds hier op aarde leer om mekaar lief te hê, te aanvaar en te koester nie?
Gedagte vir die dag
Omdat God se hart vir almal is, behoort ons s’n ook te wees—en dan word verskille iets wat verryk, nie verdeel nie.




