KWAZULU-NATAL. – ‘n Seun (11) moes Dinsdagmiddag in Waterloo gehelp word nadat hy ná speeltyd met maats met ’n handboei aan sy been by die huis aangekom het.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die seun het met sy maats gespeel toe ’n 13-jarige glo ’n stel handboeie uitgehaal het. Tydens die spel is een kant van die boei aan die jonger seun se been vasgemaak. By die huis gekom, het die boei pyn veroorsaak en kon sy familie dit nie self verwyder nie, ondanks pogings wat ook die slot beskadig het. Rusa is na die huis van die seun ontbied en het die handboei met ‘n boutsnyer verwyder.





