JOHANNESBURG. – Die polisie is besig met ‘n landwye veiligheidsoperasie van R600 miljoen voor beplande betogings teen ongedokumenteerde immigrante op 30 Junie.
Gauteng en KwaZulu-Natal is as die grootste moontlike brandpunte geïdentifiseer.
Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, het bevestig dat gespesialiseerde SAPD-eenhede vanaf 29 Junie ontplooi sal word. Dit sluit openbare-orde-polisiëring, taktiese reaksiespanne en K9-eenhede in.
Polisieverlof is landwyd gekanselleer. Die weermag is ook op bystand indien geweld buite die polisie se kapasiteit eskaleer.
KwaZulu-Natal word as die provinsie met die hoogste risiko beskou. Meer as 3 000 Malawiese vlugtelinge is tans in tydelike kampe in Durban nadat hulle vroeër uit geweldgeteisterde gebiede gevlug het.
Veiligheidsontledings wys Sherwood, Umgeni en Kokstad as moontlike brandpunte uit. In Gauteng is noodplanne vir logistieke roetes opgeskerp.
Die Wes-Kaap word as ‘n matige risiko beskou. Veiligheid is daar opgeskerp ná moorde in Mei in Mosselbaai en onrus in landelike Overberg-dorpe, waaronder Kleinmond en Gansbaai.
Die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Vrystaat bly op laer risikovlakke, met geen bevestigde georganiseerde protesaksie wat aangeteken is nie.
Die sperdatum van 30 Junie is deur die anti-immigrasiegroep March and March gestel, maar het geen wetlike status nie.
Die regering het gewaarsku dat geweld en die beskadiging van eiendom nie geduld sal word nie.
Verskeie Afrikalande, waaronder Nigerië, Malawi, Ghana en Zimbabwe, is besig om hul burgers te help ontruim te midde van toenemende aanvalle op buitelanders.





