Byna die helfte van Suid-Afrikaanse kinders, oftewel 45,9%, het in 2025 slegs saam met hul ma gewoon, terwyl net 31,4% saam met albei ouers gewoon het. Bietjie meer as 40% van die huishoudings word deur vroue gelei.
Volgens Statistieke Suid-Afrika se jongste syfers het nog 18,5% van kinders by nie een van hul ouers gewoon nie, terwyl 4,2% saam met hul pa gewoon het. Die syfers verskil tussen provinsies. In Limpopo het die hoogste persentasie kinders – 51,7% – slegs by hul ma gewoon, gevolg deur KwaZulu-Natal en Mpumalanga, albei met 51,5%.
Die data wys verder dat vroue in 42,6% van Suid-Afrikaanse huishoudings die hoof van die huis is. In landelike gebiede is dié syfer selfs hoër, met 47,6%. KwaZulu-Natal het die hoogste persentasie vroulike huishoudingshoofde met 48,4%, gevolg deur die Oos-Kaap met 48,1%.
Die syfers word deur Stats SA uitgelig as deel van Vrouemaand 2026.







