WES-KAAP. – ’n Beseerde volwasse suidelike noorkapper-walviskoei en haar kalf is gestrand gevind. Volgens navorsers stem die besering van die koei ooreen met die stamp wat deur ‘n skip veroorsaak word. Die voorval beklemtoon toenemende kommer oor die oorvleueling tussen walvisse en skeepsverkeer langs die Suid-Afrikaanse kus.
Die walviseenheid van die soogdiernavorsingsinstituut aan die Universiteit van Pretoria (MRI), wat saam met die Dyereiland-bewaringstrust op die toneel was, sê die kalf was nog baie jonk en het net meer as vier meter lank gemeet. Volgens die navorsers neem skeepsverkeer rondom die Kaap toe, onder meer omdat meer vaartuie weens die voortslepende onstabiliteit in die Midde-Ooste om die Kaap herlei word. Die MRI het daarom saam met AfriSeas en die OCEAN Action Network, in vennootskap met IFAW en die Internasionale Walviskommissie (IWK) se Ship Strike Expert Panel, ’n meerjarige projek van stapel gestuur om die risiko van botsings tussen skepe en walvisse te verminder. Navorsers, owerhede, die skeepsbedryf en bewaringsorganisasies sal deur die projek bymekaarbring word om praktiese oplossings te identifiseer en wêreldwye beste praktyke toe te pas.
Die navorsingspan sê dié werk word al hoe belangriker namate walvisbevolkings herstel en skeepsverkeer terselfdertyd in dieselfde seegebied toeneem. Die span het ook die samewerking van Dyereiland-bewaringstrust, CapeNature en die breër netwerk wat op gestrande seediere reageer, geloof.





