OUDTSHOORN. – Klein Karoo Klassique word van Vrydag 7 tot Sondag 9 Augustus vir die 17de keer op Oudtshoorn aangebied, met ‘n program wat klassieke musiek, letterkunde, kuns, kos en wyn saambring.
Lees meer: Sterbelaaide aand vier die beste van die KKNK
“Ons sien geweldig uit daarna om feesgangers hierdie naweek by Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn te verwelkom,” sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die fees, aan Nuusflits.
Theart sê Klassique is een van sy gunsteling-geleenthede van die jaar. “Die intimiteit van die fees en die warmte daarvan om tyd saam met jarelange feesgangers te spandeer én nuwe gehore te ontmoet, is ‘n lekkerte. Voeg daarby die wonderlike musici, sangers en ander deelnemers wat met soveel passie en entoesiasme hul vakmanskap en liefde vir klassieke musiek met gehore deel vir die perfekte winterfees.”
Hoogtepunte op die program van Klein Karoo Klassique
Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) keer terug na Oudtshoorn vir die Klassique Galakonsert op Vrydag 7 Augustus om 19:00. Soliste van Kaapstad Opera bring Saterdag 8 Augustus om 19:00 hulde aan Mimi Coertse in Heimwee en die Universiteitskoor Stellenbosch tree Sondag 9 Augustus om 19:00 vir die eerste keer by die fees op.
Cellissimo op Sondag 9 Augustus om 14:00 bied ‘n wêreldpremière van ‘n werk deur Shane Woodborne. Antjie Krog is Saterdag 8 Augustus om 12:00 vir die eerste keer in gesprek oor haar vertaling van Olive Schreiner se From Man to Man.
Gratis ontbytkonserte word aangebied deur die Oudtshoorn-pianis John Theodore op 8 Augustus om 08:00 en die Steinway-kunstenaar Charl du Plessis op 9 Augustus om 08:00.
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, sê die fees bied die ideale platform vir die ATKV om sy missie uit te leef, naamlik om proaktief en op ‘n volhoubare wyse om te sien na die diverse kunsbehoeftes van die Suid-Afrikaanse gemeenskap.
“Klein Karoo Klassique gaan oor veel meer as klassieke musiek en bied aan feesgangers ‘n unieke bymekaarkomplek in die Klein Karoo, met ‘n onvergeetlike kultuurervaring wat ook visuele kuns, letterkunde en kos- en wynervarings insluit,” sê Lemmer.
“Hierdie uiteenlopende program bied werklik iets vir elke belangstellende, van asemrowende musiekuitvoerings tot inspirerende musiek- en boekgesprekke, asook praktiese werksessies. Só ook word die fees die ideale platform vir opleiding en ontwikkeling,” sluit hy af.
Leerders leer die orkes ken
Inleiding tot die orkes word Vrydag 7 Augustus om 10:00 aangebied, waar leerders uit die Klein Karoo onder leiding van Richard Cock en lede van die KFO meer oor die orkes en orkesmusiek leer. Tydens die interaktiewe sessie word leerders op ‘n musikale reis deur die orkes se verskillende groepe geneem. Die sessie word ondersteun deur die ATKV en die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD).
Anina Lundie, senior kurrikulumbeplanner vir skeppende kunste by die WKOD, sê feeste soos Klein Karoo Klassique gee lewe aan die skoolkurrikulum in ‘n werklike, professionele omgewing.
“Dit verbind leerders in praktyk tot kunstenaars, kunste-administrateurs, tegnici en feesorganiseerders, wat aan hulle wys dit is lewensvatbaar en opwindend om ‘n loopbaan in die kunste te hê. Deur ons Growth for Jobs-program neem ons hierdie verbintenis ‘n tree verder, wat uiteindelik die leerders se ervaring by die fees met loopbaanontwikkeling en ekonomiese deelname verbind,” sê Lundie.
“Inleiding tot die orkes maak wat leerders in die klaskamers leer ‘n werklikheid. Dit is baie leerders se eerste keer wat hulle ‘n orkes in lewende lywe sien. Daardie oomblik wanneer hulle iets herken wat hulle in die klaskamer geleer het, is uiters kragtig.”
Werksessie vir koorleiers
Die bekroonde André van der Merwe, koorleier van die Universiteitskoor Stellenbosch, bied Maandag 10 Augustus om 08:30 ‘n spesiale werksessie vir koorleiers uit die Klein Karoo en Tuinroete aan. Die aanbieding, wat deur die ATKV ondersteun word, gee koorleiers van gemeenskapskore, skoolkore en kleiner ensembles die geleentheid om nuwe idees, praktiese vaardighede en vars inspirasie te ontdek.
Kos, wyn en wandeltoere
Verskeie kamermusiekuitvoerings, twee laataandkonserte en musiek- en boekgesprekke word ook tydens die fees aangebied. Feesgangers kan die Klein Karoo se smake ervaar tydens ‘n Historiese wandeltoer op 8 en 9 Augustus, ‘n olyfolietoer en proe daagliks en ‘n tee-en-smaak-ervaring daagliks. Die Wynmeester kuier vir die eerste keer by Klassique en bied wynproeë deur drie wynmakers met ‘n bypassende happie aan.
Kaartjies en inligting
Kaartjies is aanlyn beskikbaar by klassique.co.za, by die KKNK-kantoor of by die deur voor vertonings, afhangend van beskikbaarheid. Navrae kan gerig word aan [email protected], 044 203 8600 of per WhatsApp na 065 285 2337.
Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude, RSG, Oudtshoorn Courant en die Oudtshoorn Munisipaliteit.
* Mediaverklaring.





