DA beweer pasiënt verloor sig oor wag – gesondheidsdepartement ontken dit

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – ’n Pasiënt het volgens die DA permanente sig in sy regteroog verloor nadat hy ses maande lank vir retinale chirurgie by Steve Biko Akademiese Hospitaal in Tshwane gewag het. Die Gautengse departement van gesondheid ontken bewerings oor permanente blindheid van die pasiënt weens gebrekkige toerusting by die oogkliniek.

Madeleine Hicklin, DA-LPW en woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, sê die operasie kon nie uitgevoer word nie omdat die kompressor- en suigstelsels wat vir die nodige toerusting gebruik word, buite werking geraak het en steeds nie vervang is nie. Die pasiënt het sedert Februarie met ’n losstaande retina geleef en het volgens die DA verskeie konsultasies by Steve Biko en die Mamelodi-oogkliniek gehad. Die DA beweer spesialiste het selfs aangebied om R10 000 in te samel om ’n vervangingskompressor te koop, maar dat die hospitaalbestuur dit glo van die hand gewys het weens voorsieningkettingprosedures.

’n Beroep word op die Gautengse departement van gesondheid gedoen om dringend die nodige toerusting te bekom, retinale chirurgie te hervat en aanspreeklikheid te verseker. Druk hier om meer te lees.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, sê die pasiënt het verskeie vorige chirurgiese prosedures ondergaan en spesialiste het hom by ’n ander hospitaal in die Steve Biko-cluster beoordeel. Die oog met die beste kans om sig te behou, is geopereer. Volgens die departement was die prognose vir die ander oog reeds swak en is die pasiënt ingelig dat chirurgie waarskynlik nie sy sig sou herstel nie. Die departement sê die pasiënt se kliniese rekords ondersteun dus nie die bewering dat infrastruktuurprobleme tot sy verlies in sig bygedra het nie.

Die departement erken wel vertragings met die verkryging van toerusting wat dienslewering beïnvloed het. Volgens die departement is met die aankoopproses gevorder en die nodige toerusting sal na verwagting binnekort gelewer word. Die departement sê dit prioritiseer die herstel van geraakte dienste en toepaslike verwysingsroetes vir pasiënte wat spesialis-oogsorg benodig.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief