WES-KAAP. – Lede van Operasie Lockdown III het Vrydag 7 Augustus 2026 drie mans, tussen 22 en 24 op aanklagte van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, besit van ’n verbode vuurwapen en onwettige besit van ammunisie in hegtenis geneem.
Volgens die kantoor van die provinsiale kommissaris, Wes-Kaap, het die span inligting ontvang oor drie gewapende verdagtes wat na bewering besighede in die Strand-omgewing afpers. Die verdagtes was in ’n silwer Ford Focus-sedan onderweg.
Die voertuig is omstreeks 21:30 in Xakistraat, Strand, opgemerk. Een van die verdagtes het met ’n plastieksak in sy besit probeer vlug, maar is vasgetrek. Twee vuurwapens en 15 rondtes ammunisie is tydens die operasie gekonfiskeer.
Die drie verdagtes sal op Dinsdag 11 Augustus 2026 in die Strand-landdroshof verskyn.





