SUID-AFRIKA. Suid-Afrikaners wat vroeg Woensdagoggend, 12 Augustus, hemelwaarts gekyk het, kon ‘n deel van ’n besondere planetêre belyning waarneem, met ses planete wat oor die oggendhemel versprei was.
Jupiter, Mercurius, Mars, Uranus, Saturnus en Neptunus was deel van die sogenaamde planetêre parade. Die planete het nie werklik in ’n reguit lyn in die ruimte gestaan nie, maar het van die aarde af langs dieselfde breë baan deur die hemel verskyn.
Foto’s wat op sosiale media versprei en al ses planete as ’n helder, netjiese ry voorstel, gee dus nie ’n akkurate beeld van wat mense met die blote oog sou sien nie.
Die beste tyd om die verskynsel in Suid-Afrika waar te neem, was voor sonsopkoms. Die presiese tyd het van provinsie tot provinsie verskil, met die son wat vroëër in die oostelike dele van die land opgekom het as in die weste.
Mars en Saturnus was van die makliker planete om waar te neem. Mercurius en Jupiter was laag naby die horison en moeiliker om te sien, terwyl Uranus en Neptunus baie dowwer is en gewoonlik ’n verkyker of teleskoop benodig.
Die belyning beteken nie die ses planete was fisies langs mekaar in die ruimte nie. Omdat die planete in min of meer dieselfde vlak om die son wentel, kan hulle vanuit die aarde se perspektief soms langs dieselfde gedeelte van die hemel voorkom.
Illustrasie: Die beeld wat by hierdie berig gebruik word, is met kunsmatige intelligensie (KI) gegenereer en dien slegs as ’n illustrasie van die planetêre belyning. Dit is nie ’n foto van die verskynsel nie en die posisies en voorkoms van die planete moet nie as ’n presiese astronomiese voorstelling beskou word nie.
Bronne: Timeanddate.com; Star Walk; South African Astronomical Observatory (SAAO).





