KWAZULU-NATAL. – Verdagtes van ’n netwerk wat daarvan beskuldig word dat hulle padrelings ter waarde van miljoene rande steel, sal vandag in die KwaDukuza-landdroshof verskyn.
Siboniso Duma, KZN LUR vir vervoer en menslike nedersettings, sê hy het ’n forensiese ondersoek gelas na die toekenning van tenders vir padrelings deur die departement. Die ondersoek volg nadat ’n vermeende “runner” in hegtenis geneem is, terwyl hy besig was om padrelings te verwyder. Die verdagte het die polisie glo na ’n maatskappy in Jacobs gelei, waar die eienaar as ’n vermeende hoof van die netwerk uitgewys is.
Duma sê die departement ondersoek ook die moontlikheid om die Valke en die spesiale ondersoekeenheid by die ondersoek te betrek. Daar sal ook gekyk word na moontlike bande tussen departementsamptenare en die netwerk.
Volgens Duma het die diefstal van padrelings op verskeie padnetwerke tot die dood van padgebruikers gelei.





