GAUTENG. – Simiso Silomo Phakathi (27), wat gesoek was in verband met die moord op sy 37-jarige vriendin in Soweto, is in Klerksdorp in hegtenis geneem. Die inhegtenisneming het gevolg nadat sy foto wyd deur die media en op sosiale media versprei is.
Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê die verdagte is binne vier uur opgespoor nadat die polisie vir hulp gevra het. Lede van die Joubertina-gemeenskap in Klerksdorp het hom aan sy foto herken en die polisie in kennis gestel.
Phakathi was gesoek nadat sy vriendin, Jabulisile Josephina Tshabalala, op 13 Augustus dood in die agterkamer waar hulle gewoon het, aangetref is. Sy is na bewering doodgesteek. ’n Lasbrief vir Phakathi se inhegtenisneming op ’n aanklag van moord is uitgereik.
Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het die media en gemeenskap bedank vir hul hulp. “Meer kan bereik word wanneer gemeenskappe en die media die werk van die polisie ondersteun,” het Dimpane gesê.
Phakathi sal na Johannesburg geneem word, waar hy in verband met die moord op Jabulisile Josephina Tshabalala tereg sal staan.





