Brekende Nuus
Nuus

Burgerlugvaart ontken afdanking oor fluitjieblaas

Foto: Ter illustrasie

Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) ontken bewerings dat ’n voormalige werknemer afgedank is omdat hy veiligheidskwessies geopper of ’n fluitjieblaserklag ingedien het.

Sisa Majola, BLO-woordvoerder, sê die werknemer is op 26 Maart 2026 om 10:00 geskors weens beweerde ernstige wangedrag, hangende ’n ondersoek. Volgens Majola het die werknemer eers om 11:09, ná sy skorsing, aan die bestuur gesê dat hy ’n klagte deur die fluitjieblaserlyn ingedien het. Majola sê die lyn word onafhanklik bestuur en dat die organisasie nie onmiddellik toegang tot verslae het nie. Volgens die owerheid het die werknemer se klagte daarna by die raad beland, maar het hy sy bewerings op 25 Mei 2026 vrywillig teruggetrek.

Majola sê die werknemer is later ná ’n dissiplinêre proses oor verskeie aanklagte, wat volgens die BLO nie met die fluitjieblaserbewerings verband hou nie, weens beweerde ernstige wangedrag afgedank. Die aard van die wangedrag is nie bekend gemaak nie.

Wat die ZS-CAR-vliegtuigongeluk betref, sê die BLO die saak is voor die hof en dat hy daarom nie daaroor kommentaar kan lewer nie.

Die ZS-CAR-vliegtuigongeluk het op 23 Januarie 2020 naby George in die Wes-Kaap plaasgevind. ‘n Cessna S550 Citation, wat ’n kalibrasievlug uitgevoer het, het neergestort en al drie mense aan boord, kapt. Thabiso Tolo, eerste offisier Tebogo Lekalakala en vluginspekteur Gugu Mnguni, is dood. Die ongeluk is later deur die Ethiopian Aircraft Accident Investigation Bureau ondersoek.