WES-KAAP. – Chirurge van Tygerberg-hospitaal het Suid-Afrika se eerste robotiese nierskenkeroperasie (skenker-nefrektomie) suksesvol uitgevoer. Die nier van ’n 45-jarige ma is met robottegnologie verwyder sodat dit aan haar 24-jarige dogter geskenk kon word.
Martin Viljoen, US-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die operasie, ’n skenker-nefrektomie genoem, is deur dr. Danelo du Plessis, uroloog en senior dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), met die Da Vinci Xi Robotic-platform uitgevoer. Hierdie robottegnologie stel chirurge in staat om met groot presisie deur middel van vier robotarms en ’n 3D-konsole te opereer.
Volgens Du Plessis is die operasie in minder as 90 minute uitgevoer. Hierdie tegnologie maak die operasie minder indringend vir lewende skenkers. Die skenker is die volgende dag ontslaan en die oorplantingsnier het onmiddellik begin funksioneer.
Dr. Matodzi Mukosi, uitvoerende hoof van Tygerberg-hospitaal, het gesê: “Hierdie mylpaal demonstreer ons toewyding aan innovasie en uitnemendheid in pasiëntsorg. Die suksesvolle robotiese nierskenkeroperasie is ’n eerste vir Suid-Afrika en ’n trotse oomblik vir Tygerberg-hospitaal.”
Prof. Elmi Muller, dekaan van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het bygevoeg dat robotchirurgie toenemend as ’n veilige en effektiewe alternatief vir laparoskopiese prosedures beskou word. Sy het gesê: “Dit is bemoedigend om te sien dat sulke innovasies ook in Suid-Afrika plaasvind.”
Tygerberg-hospitaal en die Universiteit Stellenbosch bied sedert 2022 ’n robotchirurgie-opleidingsprogram aan, wat dokters die geleentheid gee om gevorderde tegnieke aan te leer. Du Plessis het reeds meer as 200 robotprosedures uitgevoer, insluitend gedeeltelike nefrektomies, sistektomies en prostatektomies.
Prof. André van der Merwe, hoof van Urologie by Tygerberg-hospitaal en die US, het gesê: “Dit verteenwoordig nog ’n sprong vorentoe in chirurgiese innovasie. Ek verwag dat ons meer van hierdie prosedures sal sien, met pasiënte wat geweldig daarby baat.”
Druk hier om meer te lees. Op die foto’s is Dr. Danelo du Plesis en die span wat die operasie uitgevoer het.