Brekende Nuus
Afrikaans

‘Pastry chef’-moordenaar tot 15 jaar tronkstraf gevonnis

Foto: Ter illustrasie Canva
Foto: Ter illustrasie Canva

GAUTENG. – Sibusiso Zitha (41) is deur die Johannesburg-landdroshof aan die moord op Thembekile Letlape, wat ook as The Pastry Chef bekend gestaan het, skuldig bevind en tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Phindi Mjonondwane, NVG-woordwoerder, sê in ‘n verklaring Letlape het op 30 Mei 2024 in hulle huis in Fourways kos voorberei, toe ‘n argument met Zitha uitgebreek het. Tydens die argument is Letlape aangerand. Die aanranding het in die teenwoordigheid van Zitha se 10-jarige dogter, wat televisie gekyk het, plaasgevind. Zitha het Letlape met verskeie messe verskeie kere in die gesig en bors gesteek. Sy is op die toneel dood.

Dr. Kgosi Letlape, die oorledene se pa, het in die hof getuig dat sy dogter herhaaldelik aangedui het dat sy die gewelddadige verhouding wou verlaat, maar in die huis aangebly het, al was sy nooit met die beskuldigde getroud nie. Abel Ramokoma, die staatsadvokaat in die saak, het die hof versoek om die voorgeskrewe minimumvonnis op te lê.

Die hof het egter van die voorgeskrewe minimumvonnis afgewyk en die beskuldigde se berou, sy skulderkenning, sy aanvaarding van verantwoordelikheid, sy bekentenis aan die polisie, die feit dat hy minderjarige kinders het, asook die tyd wat hy reeds in aanhouding deurgebring het, in ag geneem.

Mjonondwane het gesê: “Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die vonnis, aangesien dit ’n sterk boodskap uitstuur dat dade van geslagsgebaseerde geweld nie geduld sal word nie.”