MPUMALANGA. – Voormalige konst. Sizwe Cedrick Khoza (38) is deur die Mpumalanga-hooggeregshof tot drie keer lewenslank vir drie familielede se dood gevonnis. Sy vrou, ‘n verpleegster by Makwane-hospitaal, was een van die oorledenes.
Monica Nyuswa, woordvoerder van die NVG, en Phaladi Shuping, woordvoerder van Opod, die polisiewaghond, sê Khoza, voorheen te Masoyi-polisiestasie gestasioneer, het op 3 Junie skuldig gepleit vir die pleeg van drie moorde en is dienooreenkomstig gevonnis.
Khoza en sy vrou het huweliksprobleme gehad en op 30 April 2023 het hy haar, Nomthandazo Suzan Mnisi (31), haar suster Colisile Mnisi (32), en haar broer Dennis Mkhatshwa (42), doodgeskiet.
Op die betrokke dag het hy sy vrou en haar familielede gevra om hom in Sand River Trust, in Hazyview, te ontmoet. Tydens die ontmoeting het sy swaer hom ‘n “klein seuntjie” genoem, wat hom kwaad gemaak het. Hy is slaapkamer toe en is terug sitkamer toe met sy dienspistool om hulle “te wys waartoe ‘n klein seuntjie in staat is”. Hy het eers sy vrou, toe sy skoonsuster en daarna sy swaer doodgeskiet.
Khoza is deur Opod in hegtenis geneem en was op borg terwyl die saak vir verdere ondersoek uitgestel is. Na die ondersoek is die dossier aan die direkteur van openbare vervolging in die provinsie oorhandig en Khoza is op drie aanklagte van moord aangekla. Die saak is vir voorverhoor-verslae uitgestel, waarna Khoza Dinsdagoggend gevonnis is.
Hy is lewenslank vir elke moord gevonnis en onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Die NVG en Opod het die ondersoekbeampte en staatsaanklaer in die saak vir hulle werk geprys.