KWAZULU-NATAL. – ’n Verdagte is op 29 Augustus weens beweerde kaartbedrog in hegtenis geneem nadat inligting oor ’n poging tot bedrog in Ballito tot ’n hoëspoedjaagtog in Umhlanga gelei het.
Tyron Powell van Marshall Security sê beamptes van die maatskappy se spesiale operasies en Durban-Noord SAPD se trio-misdaadspan het ná 15:00 inligting ontvang oor verdagtes wat na bewering probeer het om ’n persoon in die Ballito-gebied te bedrieg. ’n Beskrywing van die verdagtes en hul voertuig is versprei. Tydens proaktiewe patrollies in Umhlanga is ’n voertuig gewaar wat aan die beskrywing voldoen. Die bestuurder het volgens Powell versnel en probeer wegjaag, waarna ’n jaagtog deur die gebied gevolg het. Die voertuig het uiteindelik in verkeer vasgeval en die verdagtes het uitgespring. Twee verdagtes het weggekom, terwyl een in hegtenis geneem is.
Talle spoedpunt-masjiene en sleutelborde, wat vermoedelik in bedrieglike aktiwiteite gebruik is, is tydens ’n deursoeking van die voertuig gevind. Die verdagte, die toestelle en die voertuig is na die Durban-Noord polisie geneem vir verdere ondersoek en verwerking.