Tshimangadzo Muofhe (32) is op 27 Maart vanjaar na bewering deur haar man, Mainfred Mphikeleli Shikwambana (35), in Polokwane doodgeskiet.
Women For Change berig die man het homself na bewering geskiet nadat hy sy vrou geskiet het.
Die polisie het volgens Women For Change bevestig dat die liggame deur ‘n familielid by die Thornhill Estate in Polokwane gevind is.
Die egpaar het senior poste in die gesondheidsdepartement beklee. Muofhe was ‘n dokter by die Pietersburg-hospitaal in Polokwane en haar man was ‘n mediese dokter by die Donald Frazer-hospitaal in Thohoyandou.
Die polisie het gesê die rede vir die skietery is in dié stadium onbekend, maar die moontlikheid van gesinsgeweld kan nie uitgesluit word nie. Die polisie het ‘n moord- en doodsondersoekdossier geopen.