KWAZULU-NATAL. – ‘n Ma en kleuterseun (3) is net voor 10:00 vanoggend in Boshoffstraat in die Bluff, suid van Durban, deur ‘n rottweiler aangeval. Beide is ernstig beseer.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê die ma, vermoedelik in haar 30’s, en kleuterseun het in die straat gestap toe die rottweiler uit sy erf ontsnap en hulle aangeval het.
Metropolisie wat naby was, het die ma en seun van die hond gered. Beide het ernstige beserings aan hul bene en rûe opgedoen.
Gevorderde lewensondersteunende paramedici het beide eers gestabiliseer voordat hulle vir verdere behandeling na ‘n nabygeleë hospitaal geneem is.
Volgens Jamieson sal die metropolisie en SAPD die insident ondersoek.