WES-KAAP. – Vakansiegangers wat deel van ’n advertensiegroep vir verblyf op Facebook is, het die naweek hulle skokverhale van beweerde dubbelbesprekings en bedrog gedeel.
Een gebruiker het op Kersdag geskryf dat hulle verblyf by ’n sekere eenheid in Dwarskersbos bespreek het en reeds van Pretoria op pad was toe die persoon wat die verhurings hanteer, laat weet het ’n dubbelbespreking het ontstaan.
Ander gebruikers het by die gesprek aangesluit en vertel dieselfde het met hulle by twee spesifieke eenhede wat deur dieselfde verhuringspersoon namens die eienaars bemark en uitverhuur word, gebeur. Die admin van die Facebook-blad het ’n waarskuwing oor die persoon uitgereik.
Een van die twee betrokke eenhede se eienaars het in die kommentaarafdeling van die plasing gesê dat hulle sowat ’n jaar gelede die verdagte saam met die eenheid oorgeneem het. Hy hanteer die verhurings namens hulle en ontvang dan kommissie.
Na bewering het ontstoke vakansiegangers die een eienaar ’n paar dae gelede begin skakel. Dié het toe eers besef hoeveel dubbelbesprekings in werklikheid gemaak is. Die verdagte het nog geen geld aan hulle oorbetaal nie.
’n Whatsapp-groep vir vakansiegangers wat na bewering deur die verdagte verkul is, is geskep. Volgens die inskrywings was daar Dinsdag reeds 20 mense op die groep.
Die persoon van belang het telefonies aan Nuusflits gesê dat hy eers na die nou-bevestigde polisieondersoek kommentaar sal lewer. Nie een van die eienaars kon vir kommentaar bereik word nie.
Bron: Facebook